6 Wenke om Bybelverse te memoriseer
Wil jy graag jou kinders help om Bybelverse te memoriseer? Hier is 6 wenke om jou te help om daarmee te begin.
deur Wilna Myburgh
In 1526 het die Biskop van London opdrag gegee dat al die kopieë van die Nuwe Testament, wat William Tyndale in Engels vertaal het, gebrand moet word. Boekverkopers wat met die vertaling gevang was, moes dit dan ook verbrand. Dit is maar net een voorbeeld van waar Bybels verbrand is in die geskiedenis. Daar is ook tye en plekke waar mense verbied word om Bybels by hulle te hê.
Natuurlik is dit drastiese voorbeelde om Bybelverse te memoriseer! Die idee dat jy dalk nie meer ’n Bybel gaan hê nie, en als afhang van wat mense kan onthou.
Daar is egter klomp goeie redes waarom dit goed is om jou kinders te leer om Bybelverse te memoriseer. Een hiervan is dat dit kinders help om die Bybel elke dag in hul lewens toe te pas. Bybelverse kan jou troos en bemoedig en herinner dat God altyd by jou is. As jy bang is vir ’n toets of vir die tandarts kan ’n vers soos Josua 1:9 baie beteken.
Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.
Nog ’n rede om verse te memoriseer is dat dit kinders nader aan God se Woord bring. As jy verse kan onthou, sal jy God al hoe beter begin verstaan. As jy dan ook die verse kan weergee, kan dit jou help om ander van die evangelie te vertel.
Hier is 6 wenke waarmee julle kan begin:
1. Begin klein
Moenie met ’n lang of moeilike vers begin nie. Begin eers met een kort teksvers. As jou kind moedeloos is, moenie van die kortste vers in die Bybel vergeet nie! Dit is 1 Tessalonisense 5:17.
Bid gedurig.
Die teksvers voor dit, “Wees altyd bly” (1 Tessalonisense 5:16), sal ook kinders moed gee dat hulle ’n Bybelvers kan memoriseer.
2. Lees die vers in konteks
Soek saam met jou kind die vers in die Bybel, en praat dan oor wat die vers beteken. As jy eers verstaan waaroor dit gaan, is dit makliker om dit te onthou. As daar moeilike woorde of begrippe in die vers is, maak seker dat jou kind dit verstaan en nie net soos ’n papegaai dit opsê nie.
3. Herhaal, herhaal, herhaal
Begin met een teksvers vir die week. Lees dit hardop, skryf dit neer, herhaal dit tot vervelens toe. Al gaan julle voort met ’n nuwe teksvers, kan julle nogtans weer die eerste teksverse herhaal om dit in te skerp.
4. Skryf die teksvers neer
Dit help om eers die teksvers in die Bybel te lees, en dit daarna neer te skryf op papier. As jou kind al kan skryf, laat hulle dit self neerskryf. Onderstreep die belangrike woorde. As dit ’n langer vers, deel dit op in sinsnedes. Plak die Bybelvers waar jou kind dit gereeld sien.
Kyk byvoorbeeld hoe 1 Korintiërs 16:13 opgedeel kan word:
Wees waaksaam,
staan vas in die geloof,
wees manmoedig,
wees sterk!
5. Dink bewegings of liedjies uit
Een manier om verse makliker te memoriseer is om dit te sing. Soek op die internet of iemand dalk al musiek vir ’n vers gemaak het, of sing dit op bekende wysies.
Julle kan ook saam bewegings uitdink om die woorde uit te beeld. Die vers hier bo, 1 Korintiërs 16:13, kan jy byvoorbeeld vir elke sinsnede ’n beweging uitdink, soos om ’n bril met jou hande te vorm vir “Wees waaksaam” en by “wees sterk” kan jy byvoorbeeld jou spiere wys! Maak jou kind deel hiervan, dit sal help dat hulle dit makliker onthou.
6. Doen dit saam
Nie almal van ons memoriseer op dieselfde manier nie. Vir een kind kan dit help om die vers neer te skryf, vir ’n ander om dit te sien, en ’n ander een sal dit die beste onthou as hulle dit gereeld hardop hoor.
Tog is dit ’n lekker aktiwiteit om saam as gesin te doen. Natuurlik, as jy wil hê jou kind moet ’n vers kan memoriseer, moet jy dit ook kan doen!
As julle dit as deel van kategese doen, motiveer almal om dit saam hul gesinne te doen, of doen dit saam in ’n groep om mekaar te ondersteun om meer teksverse te memoriseer.