Ouers

Waarom moet ek my kinders in waarheid opvoed?

Ons almal weet dat dit sonde is om te jok, maar hoekom is die waarheid so belangrik? In hierdie artikel leer ons wat die Bybel oor die waarheid sê.

deur ds Hendrik Verryn


Uit al die gebooie van God is die Negende Gebod sekerlik die een wat ons die meeste onderskat. ’n Wit leuentjie hier, ’n groter leuentjie daar en solank as wat niemand die waarheid ontdek nie dink jy dat jou sondetjie niemand seer maak nie. En meer nog, dink jy, solank as wat daar skynbaar niemand is wat seer kry nie, doen jy mos niks verkeerd nie.


God is waarheid

God het egter nie so lae agting vir die waarheid nie. Inteendeel Hy noem nie net sy eie geskrewe Woord die waarheid nie (bv. in Psalm 119:160), maar openbaar daarin dat Hy self waarheid is (bv. in Johannes 14:6).

Wanneer God sê dat Hy waarheid is sê Hy dat dit deel is van Wie Hy ewig is. Net soos wat Hy ewig heilig en ewig regverdig en ewig barmhartig is, net so is Hy ewig waarheid. Kortliks beteken dit dat Hy die Een is wat die waarheid:

  1. volkome bepaal
  2. volkome ken, en
  3. volkome openbaar.

Ons sê daarom dat waarheid vanuit Hom straal na ons toe sodat ons in die waarheid mag en moet leef.


Die waarheid is in, deur en tot Jesus geopenbaar

In Psalm 43:3 bid ons daarvoor: “Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei; laat dié my bring na u heilige berg en na u woninge,” Let op die gevolge waarvoor hierdie gebed smeek, naamlik dat die waarheid ons bring na die heerlikheid by God. Dit is omdat die waarheid uiteindelik in en deur en tot Christus Jesus openbaar is met die doel dat ons ewig mag lewe.

  • In Jesus, want Jesus is die waarheid soos Hy self sê in Johannes 14:6. In Hom as Persoon word God Drie-Enig openbaar, want Hy is een in wese met die Vader en die Gees. Om vir Jesus te sien is om die Vader te sien (Vergelyk Johannes 10:30 en Johannes 14:7-11)
  • Deur Jesus, want Jesus het gekom om ons te onderrig in die volle waarheid nie net deur Homself aan ons te toon nie, maar ook deur met ons te praat oor Wie God is (Vergelyk Johannes 16:25 en Johannes 17:6-8)
  • Tot Jesus, want nie net openbaar Jesus die waarheid oor Wie God is nie, maar Hy roep ons ook na Hom toe. Telkemale wanneer die Woord van God ons roep tot waarheid kom dit met die belofte van die ewige lewe wat net by Hom gevind kan word. Wanneer Jesus in Johannes 14:6 sê dat Hy die waarheid is voeg Hy by dat Hy ook die weg en die lewe is en dat niemand tot die Vader kan kom sonder Hom nie. (Vergelyk Psalm 25:5 en Johannes 8:33-32).

Die leuen lei tot die dood

Leuens is ’n wapen in die hand van die Satan wat hy gebruik om die teenoorgestelde te bereik as wat Jesus met die waarheid bereik. Want waar die waarheid tot die lewe lei, lei leuens tot die dood! 

In Johannes 8 vermaan Jesus mense wat nie in Hom glo nie en sê in vers 44 vir hulle:

Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan.

Jesus verwys hier na die sondeval in Genesis 3 waar die Satan die eerste leuen op aarde vertel het en die eindproduk van sy leuen was die dood van die mensdom. Daarom noem Jesus hom ‘n mensemoordenaar van die begin af.

Maar jy vertel dan net ’n wit leuentjie

Natuurlik het die sogenaamde wit leuentjies wat ons soms vertel nie dieselfde doel as die Satan se leuens nie. Ons vertel hierdie wit leuens immers nie om iemand seer te maak nie.

Net soos Ananias en Saffira ’n wit leuentjie vertel het toe hulle geld gebring het vir die apostels en daaroor gelieg het. Hulle wit leuentjie het niemand direk seer gemaak nie. En solank as wat die apostels en die kerk nie die waarheid geweet het nie sou dit geen effek gehad het nie. Maar soos Petrus vir hulle in Handelinge 5:4 sê:

Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.

Voor God is daar nie iets soos wit leuentjies wat geen slagoffer het nie. Daar is leuens en daar is waarheid. En aangesien Hy van wese waarheid is en ook van wese heilig en regverdig is moet en sal Hy elke leuen beoordeel en regverdig straf. Want elke leuen wat vertel word doen oneer aan Sy heilige Naam. Leuens is nooit ’n slagofferlose sonde nie!


Die erns van die 9de gebod

Dit is waarom die Negende Gebod in Eksodus 20:16 nie net sê jy mag nie lieg nie, maar uitdruklik sê jy mag nie vals getuig nie. Dit is woorde wat die gebod laat klink soos ’n hofsaak.

Alles wat jy sê word opgeskryf deur God en op die groot oordeelsdag sal jou woorde net soos jou dade beoordeel word wanneer die boeke van die getuienisse oopgemaak word (sien Openbaring 20:11-15). En as jou naam nie ook in die boek van die lewe staan nie (weens jou geloof in Jesus Christus) sal jy op grond van jou valse woorde veroordeel word.


Lewe in die waarheid

As ons die waarheid in en deur en tot Jesus Christus ken moet ons in die waarheid leef. Want God is waarheid. Hy openbaar die waarheid aan ons. En Hy roep ons tot waarheid.

Teenoor dit is leuens die Satan se wapen om mense te vermoor. Ons moet as ouers daarom vir ons kinders in woord en daad leer om in die waarheid te leef. Dit geskied primêr deur hulle na Jesus te bring tydens die erediens, huisgodsdiens en elke ander geleentheid waar ons met God se Woord werk. En saam met dit moet ons ’n voorbeeld stel van lewe in die waarheid sodat ons nie eens ’n wit leuentjie vir hulle vertel nie.


Lees hierdie artikel vir praktiese raad:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui