FAQs

Wie is Kruiskind?
Kruiskind is die nuwe kindertydskrif van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA). Ons is die klein sussie van Kruispad, die aanlyntydskrif vir studente en jong werkendes. Ons fokus op die gedrukte tydskrif, maar ons het ook aanlyn gratis artikels en meer. Die GKSA het ’n jeugkantoor in Potchefstroom. Jy kan alles sien wat uit dié kantoor kom by die webwerf, GK Jeug.
Wat glo ons?
Ons bely dat die Woord van God die enigste bron van kennis oor God is en dat die Heilige Gees die Woord aan al God se kinders bekend en verstaanbaar maak. Ons glo ook dat die Woord absoluut deurslaggewend in alle gelowiges se lewe is. Kinders van God kan doodeenvoudig nie daarsonder nie. Gaan lees hier meer oor die standpunte van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.
Wat wil Kruiskind doen?
- Ons wil kinders leer om God se Woord te ondersoek en dit te leer verstaan.
- Kruiskind wil gelowige kinders van kleins af leer wat dit beteken om soos ’n gelowige te lewe.
- Ons wil kinders leer om alles in die wêreld rondom hulle vanuit die lig van God se Woord te sien en verstaan.
- In alles wat ons publiseer – te koop of gratis – is ons oogmerk om aan God se Woord onderdanig te wees.
Wat is in die Kruiskind-tydskrif?
Kruiskind is 20 bladsye propvol inhoud wat direk vanuit die Bybel saamgestel is. Elke keer rondom ’n nuwe tema. Die inhoud is pret én leersaam. Hierdie aktiwiteitsboek het iets vir elke kind! Dink aktiwiteite, inkleurprente, raaisels, woordpret en lesse uit die Bybel. Kinders kan direk op die tydskrif skryf en teken. En om jou te laat uitsien na elke volgende uitgawe – wat elke kwartaal uitkom – het ons ’n spesiale harde agterblad met kaartjies wat jy kan versamel.
Waar koop ek Kruiskind?
Ons het nie ’n intekenproses waar jy vir ’n jaar inteken nie. Ons wil eerder dat jy die tydskrifte koop wanneer jy dit wil gebruik. Dit is te koop direk by die GKSA in Potchefstroom. Jy stuur ’n e-pos, ons stuur ’n faktuur, jy betaal. As jy nie in Potchefstroom is nie, stuur ons dit vir jou per koerier.
Hoeveel kos ‘n uitgawe?
Elke tydskrif kos R30. ’n Minimale bedrag! Natuurlik moet jy dan ook die afleweringskoste in ag neem. Ons koerier gereeld met Fastway teen R95, maar ons kan ook pakkies met PUDO van Courier Guy stuur. Vir Pudo kos dit R60 as ons dit na een van hul lockers of kiosks stuur en R70 na jou straatadres.
Vir watter ouderdomme is Kruiskind?
Kruiskind ondersteun ’n wye reeks ouderdomme. Kinders vanaf vyf jaar oud tot 12 sal dit geniet. Ons dui nie spesifieke ouderdomme in die tydskrif aan nie, dit begin by die jongste van die jongspan en werk op na die ouer kinders. Daar is ’n tema vir elke uitgawe wat ons vir alle ouderdomme toeganklik maak.
Wat gee Kruiskind gratis weg?
Aanlyn het ons vinnige aktiwiteitsbladsye en meer wat jy kan aflaai en uitdruk. Dit sal nooit dieselfde wees as in die gedrukte tydskrif nie, dis eerder aanvullend tot jou tydskrif. Alhoewel alles deesdae aanlyn gebeur, is ons fokus ’n gedrukte tydskrif wat kinders bymekaar kan maak. Dit beteken nie dat ons maak of die aanlynlewe nie bestaan nie! Ons gryp die geleentheid aan.