Hoe en wanneer doen ons Huisgodsdiens?
Gebruik hierdie praktiese raad om huisgodsdiens in jou huis ’n algemene praktyk te maak.
deur ds Werner Brotherton
Daar is baie keer uitdagings in ons lewe. Een so uitdaging is om met Huisgodsdiens te begin nadat dit vir lank ’n leemte in jou huis was. Of selfs as dit die eerste keer is wat jy jou kind moet begin leer van die Bybel! Waar begin ek? Wat doen ek? Hoe doen ek dit?
Só begin jy met Huisgodsdiens
Die eerste wat jy doen, is om te bid en die Here te vra om leiding deur sy Gees. Wat jy dan tydens huisgodsdiens doen aan die begin is die volgende:
- Kies ’n Bybelboek of gedeelte om te lees. Hier is idees vir verhale wat kinders se aandag baie mooi hou:
Die tien plae van Egipte; Die tien gebooie (gebruik handgebare om dit vir die kinders te leer; Geskiedenis van Daniël se vriende in die oond; Daniël in die leeukuil; Noag in die ark; Die Skeppingsgeskiedenis; en die verhale van die kruisiging en opstanding, en soortgelyke gedeeltes. - Gee vir jou kinders geleentheid om vrae te vra. As jy nie kan antwoord nie sê jy dat jy julle predikant sal vra.
- Doen ’n gebed waarin jy vra dat die Woord in julle sal wees.
Leer kinders bid tydens Huisgodsdiens
Gee ook geleentheid vir die kinders om te bid sodat hulle kan leer om voor ander mense te bid. Help hulle om te bid, al sê hulle net dankie vir die kos wat hulle kon eet en dat hulle uit die Woord kon lees.
De volgende stap met Huisgodsdiens
Later, wanneer jy meer vertroud is met Huisgodsdiens kan jy begin om goeie Gereformeerde boeke te lees of webtuistes te raadpleeg. Dan kan jy bietjie begin om die teksgedeelte te verduidelik en te bespreek hoe die teksgedeelte prakties in hulle lewe uitgeleef kan word.
Wanneer is die beste tyd vir Huisgodsdiens?
Elke huisgesin se roetine is anders. Gewoonlik is ’n goeie tyd om Huisgodsdiens te doen na ontbyt en aandete. Dit is dan ook ’n goeie idee om saam te eet omdat dit rondom die tafel is wat verhoudinge gebou word. Daar kan jy hoor wat in jou vrou en kinders se dag gebeur het. Daar kan raad gevra word oor sekere uitdagings en dit kan alles met Huisgodsdiens bespreek word.