Ouers

Hoekom moet ons Huisgodsdiens doen?

In Josua 24 lees ons waar Josua sê dat hy en sy huis die Here dien. As huisgesin moet ons ook daarna streef. En meer nog, ouers het die opdrag om kinders in die geloof op te lei.

deur ds Werner Brotherton


Ons lewe in ’n baie besige tyd waar ons baie maklik deur die lewe ingesluk kan word. Daar is ons werk, alles wat in die huis moet gebeur, huiswerk, kosmaak, huis skoonmaak, ens. In dit alles kan ons prioriteite baie maklik vir ons bepaal word – en ons dit nie self bepaal nie.

Bepaal jou eie prioriteite

Wanneer ons lewe ons prioriteite namens ons bepaal is die realiteit dat ons geloof gewoonlik nié bo-aan die lys is nie. Dit is nie eers altyd doelbewus nie.

Wat dit nog moeiliker maak: Ons moed kan sommer vinnig in ons skoene sak as ons hoor dat ons ons prioriteite moet herorganiseer. En dan boonop nog iets daarby sit: geloof. En heel bo-aan die lys, en ekstra op die lys – Huisgodsdiens.

Dien jou huis die Here?

Waarom moet ons Huisgodsdiens? My kinders gaan mos Sondagskool toe! Om die vraag te antwoord moet ons eers vra wie kinders in die geloof moet grootmaak. In Josua 24 stel Josua die volk voor ’n belangrike keuse. Óf hulle huisgesinne dien die Here, óf nie. Hier wys Josua dat dit by die gesin begin om die Here te dien.

Wie moet kinders in die geloof oplei?

In Deuteronomium 6 word dit weereens voor die ouers se voete gelê om die Woord by hulle kinders in te skerp. Die boek Spreuke is vol bewyse dat dit ons as ouers se verantwoordelikheid is om ons kinders in die geloof groot te maak. Nog meer, in Efesiërs 6:4 word dit spesifiek voor die pa se voete gelê:

En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.

Dit is ook hoe die Ou Testamentiese gelowiges verstaan is. Die pa is verantwoordelik, met die ma as sy hulp. Hy is die een wat moet sorg dat daar huisgodsdiens is en dat sy familie by die kerk uitkom.

Waarom is katkisasie nie genoeg nie?

Die antwoord is baie eenvoudig: want katkisasie is een maal per week, met dalk nog een dag vir voorbereiding in die week. As ons wil hê dat ons kinders werklik die Here moet ken, en deurdrenk moet wees met die Woord, dan doen ons Huisgodsdiens.

Daar by die huis word die fondamente gelê. Daar leer ons kinders om elke dag uit die Woord te leef. Wanneer jy saam met Josua sê: “Ek en my huis, ons sal die Here dien”, moet dit konkreet en prakties in ons lewe na voorskyn kom. Huisgodsdiens is een manier om dit te doen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Verified by MonsterInsights