Hoe kweek ek ’n liefde vir die Bybel by my kinders?
Lees hier hoe jy as ouer die Woord in jou hart moet laat leef, sodat jy dit vir jou kinders kan oordra.
deur ds Werner Brotherton
En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.
Deuteronomium 6:6-7
Ons kinders leer baie uit dit wat hulle sien. Soms meer as wat ons dink. Daarom plaas die Here baie klem in vers 6 dat sy Woord in ons as ouers se hart moet leef voor Hy ons beveel om dit in ons kinders se harte in te skerp. Dit is omdat ons kinders baie maklik kan sien of die Bybel wat ons aan hulle probeer leer in ons harte leef. Glo ons dit wat ons vir hulle leer?
Wees as ouer ’n voorbeeld
As ons lief is vir die Woord van God, sal ons kinders ook lief word vir die Woord van God. Wanneer ons hart vol is van die Woord, sal ons monde daarvan oorloop. Dan sal dit nie vir ons moeilik wees om vers 7 se opdrag uit te leef nie. Wanneer die Woord in ons hart leef sal ons oor die alledaagse dinge met ons kinders praat. Wanneer ons lief is vir die kerk, sal ons kinders ook lief wees vir die kerk. En, wanneer ons opgewonde is oor ons huwelike, sal ons kinders ook opgewonde wees om eendag te trou.
Praat met jou kinders op pad en as jy sit!
Dit is wat dit beteken om met ons kinders oor geloof te praat wanneer ons op pad is, of wanneer ons sit. Dit beteken: soos wat ons leef en sekere dinge gebeur, bespreek ons dit met ons kinders met die Bybel as ons bril. Kommunikasie is noodsaaklik. Want, dit is uit voorbeelde van die alledaagse lewe wat ons die Woord in hul harte kan inskerp. Van kleins af moet ons kinders leer dat ons alles beoordeel op grond van die Bybel.
Wees konstant besig met die Woord
Nie alleen dit nie, vers 7 leer ook dat ons oggend en aand met ons kinders oor die Woord sal praat. Dit is Huisgodsdiens in die oggend en die aand. Wanneer ons op ’n konstante basis besig is met die Woord, sal ons kinders ook lief word vir die Woord.
Wanneer hulle in ons ’n opgewondenheid sien oor die Woord, sal hulle ook opgewonde wees daaroor. Daarom, laat die Woord in jou hart leef, sodat jy dit in jou kind se hart kan inplant.