Leer jou kind: ’n Kind is vir ons gebore
Die wêreld wys Kersfees as geskenke, koekies en Kersvader. Hoe leer ek my kind wat die ware betekenis van Kersfees is?
deur ds Werner Brotherton
Skerp kleurvolle liggies, koekies en Kersvader met geskenke. Dit is gewoonlik wat ons kinders sien en waaraan hulle dink wanneer Kersfees naderkom.
Die feesseisoen is ’n vreugdevolle tyd. Dit is ’n tyd waar ons as families graag saam kuier, saam op vakansie gaan of net rustig by die huis bly voor die nuwe jaar weer begin. Wat wel nie ophou in hierdie tyd nie is ons plig om ons kinders groot te maak in die weë van die Here. Dit is belangrik dat ons kinders weet wat Kersfees werklik beteken!
Vir baie van ons is dit ’n moeilike situasie met al die geskenke, kersbome en versierings wat oral te siene is. Hoe leer ek my kind wat die ware betekenis van Kersfees is? Eerstens is dit belangrik dat ons deur die hele jaar met ons kinders oor geloof praat.
Wanneer Kersfees dan naderkom is dit nie moeilik om vir hulle te verduidelik dat Kersfees ’n tyd is om die geboorte van ons Here Jesus Christus te vier. Dit is belangrik dat ons hulle leer dat Kersfees nie oor liggies, bome en geskenke gaan nie. Dit gaan oor die grootste geskenk wat ons kan kry: Jesus Christus wat ons kom vrykoop het van die sonde. Ons grootste geskenk is verlossing!
Hier is ’n paar wenke om die Kerstyd se fokus reg te hou:
Hou die evangelie as die middelpunt
Dink weer aan die manier hoe julle as huisgesin Kersfees vier, wat staan as middelpunt van alles? Is dit koekies bak, geskenke regkry en uitdeel? As dit die middelpunt is moet iets dalk verander.
Wat moet verander?
Daar moet ’n tyd wees wat almal bymekaar kom, stil word en saam uit die Bybel die gebeure van Jesus se geboorte lees. Dit moet met vreugde en opgewondenheid gelees en vertel word.
Dit is egter nie net hierdie tyd wanneer ons Christus aan ons kindertjies moet verkondig nie, maar elke dag. Deuteronomium 11:18-21 sê:
Lê dan hierdie woorde van my weg in julle hart en in julle siel, en bind dit as ’n teken op julle hand en laat dit as ’n voorhoofsband tussen julle oë wees, en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan; en skryf dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte, sodat julle dae en die dae van julle kinders in die land wat die HERE aan julle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee, kan vermenigvuldig soos die dae van die hemel bo-oor die aarde.
Gee jou kind ’n nalatenskap van geloof
Wat gaan jou kinders eendag onthou wanneer hulle terugdink aan hulle Kersfeestye? Dat hulle dit kan onthou as ’n tyd om saam met familie te spandeer is goed. Maar nog beter: Dat hulle dit onthou as ’n tyd van geloof, waar geloof in Christus as ons Verlosser wat mens geword het, gekoester word.
Kersfees moet ons herinner dat God, vanuit sy oneindige liefde, sy Eniggebore Seun gestuur het om ons te red. Die geboorte van Jesus is die begin van sy verlossingswerk.
Daardie goeie nuus moet ons aan ons kinders leer, sodat hulle dit aan hulle kinders en die volgende geslagte kan leer! Waar die wêreld vreugde in liggies en geskenke soek, kan ons kinders, as jong gelowiges hulle vreugde in Christus vind.
Hoe leer ek my kind van Kersfees?
Die beste is om dit vir hulle uit die Bybel te lees en te vertel. Hoe ouer ons kinders is, hoe meer kan ons dit lees. Hoe kleiner hulle is, hoe meer sal ons dit aan hulle vertel. Die Bybel is vol gedeeltes wat van kinders vertel en ons kan elke Kersfees op iets anders fokus.
Ons kan die evangelies se vertelling van die gebeure van Jesus se geboorte vir ons kinders lees:
- Matteus 1
- Matteus 2
- Lukas 2
In die Ou Testament is daar baie profesieë oor Christus se koms:
- Genesis 3:15
Hier kry ons die eerste belofte dat daar ’n Verlosser gebore sou word om die Satan te kom oorwin. - Psalm 2:7
Psalm 2 profeteer van die koningskap van ons Here Jesus Christus, maar ook sy kindskap as Seun van God. - Jesaja 7:14
Hierdie profesie is eindelik vervul toe Maria as maagd swanger geword het met Christus.
Vertel met vreugde die gebeure van Kersfees aan jou kinders! Leer hulle van hul Verlosser wat gekom het, God wat mens geword het. Leer hulle dat Kersfees ’n mooi tyd is om weer te dink aan ons Verlosser se geboorte, maar leer hulle ook om elke dag met Christus in ons gedagtes en in die oog te leef.

