Leer jou kind om op Jesus te fokus
Paasfees is die tyd wat ons met ons kinders kan praat oor God se regverdigheid en liefde, en dat Jesus ons sonde en skuld op Hom geneem het.
Paasfees is ’n wonderlike tyd van die jaar, selfs al mis baie mense die punt daarvan. Dit is vir ons as gelowiges ’n kosbare geleentheid om ons kinders te leer oor die ware betekenis van Paasfees. Tog kan baie van ons wonder: “Waar begin ek? Wat doen ek? Wat leer ek my kinders? Hoe doen ek dit?”
In hierdie artikel praat ons oor ’n paar praktiese wenke om ons kinders te leer om tydens Paasfees hulle oog op Jesus te hou. Is dit sonde as jou kind die paaseier eet wanneer iemand vir hom een sou gee? Nee, solank as wat ons ons kinders leer dat Paasfees nie oor sjokolade en hase gaan nie.
Gebruik die feestyd om dit in jou huisgodsdiens in te werk. Deuteronomium 6 en Psalm 78 leer ons baie mooi dat ons met ons kinders moet praat, en die evangelie by hulle moet inskerp, dit is hoe hulle leer. Só doen ons dit ook met Paasfees.
1. Lees die gebeure rondom die kruisiging
Kinders is lief daarvoor om verhale te volg. En, wanneer ons as ouers die basiese waarhede van die evangelie, soos God se liefde, ons sonde en Jesus se verlossingswerk aan hulle vertel, lê ons die fondasie vir ons kinders se geloof neer.
Soos wat ons kinders ouer word kan ons dieper in die gebeure ingaan. Afhangende van hulle ouderdom kan hulle ook saam uit die Bybel lees. Vir jonger kinders kan jy dit vir hulle lees, en dan oorvertel op ’n vlak wat hulle kan verstaan.
Dit is wel belangrik om vir hulle uit die Bybel te lees sodat hulle besef ons bly besig met God se Woord en dat sy Woord gesag oor ons lewens dra. Ons lees die gebeure rondom die kruisiging in Matteus 26-28, Markus 14-16, Lukas 22-24 en Johannes 13-20.
Soos wat ons die Bybel vir ons kinders lees werk die Heilige Gees in hulle. Hy oortuig hulle van hierdie waarhede.
2. Wees bly oor die opstanding van Christus!
As gelowiges bely ons dat ons hoop en sekerheid van ons opstanding in Jesus se opstanding vasgelê is. Daardie belydenis moet ook in ons harte leef. In die verlede het die mense mekaar gegroet, veral op ’n Sondag, met die woorde: Hy het opgestaan! Dan het ander geantwoord: Hy het waarlik opgestaan! Dit kan ’n goeie gewoonte in die huis wees om hierdie vreugde met mekaar te deel.
Ons kinders moet in ons lewens sien dat ons self seker en oortuig is van die hoop waarin ons glo. Kom ons leef die vreugde van Jesus se opstanding in ons alledaagse lewe uit!
3. Praat met jou kinders oor die opstanding
Dit is een ding om die gebeure van Paasfees te lees, maar dit is net so belangrik om met ons kinders daaroor te praat sodat hulle dit verstaan. Berei jouself voor deur op te lees oor die kruisiging en opstanding van Jesus Christus. Vra vrae aan jou kinders:
- Waarom dink julle moes Jesus kom sterf aan die kruis?
- Waar moes Jesus juis aan ʼn hout gesterf het? Ens.
Jy kan jouself ook regmaak dat jou kinders dalk met dieper vrae kan terugkom, soos waarom Jesus aangekla is as Hy onskuldig was? Dit is ’n goeie geleentheid om met jou kinders te praat oor Jesus wat ons sonde en skuld op Hom geneem het. Ons verdien dit wat met Jesus gebeur het, maar ons kry eerder genade. Dit is ook ’n goeie tyd om te praat oor God se regverdigheid en liefde.
God se regverdigheid kan nie die sonde ongestraf los nie, ook nie sy kinders s’n nie. Daarom moes Jesus aan die kruis vir ons sondes gestraf word. Die feit dat ons nie gestraf word nie, wys God se liefde vir ons.
4. Bid vir bekeerde harte
Dit is nie moeilik vir kinders om in lekkergoed en ander aktiwiteite vreugde te vind nie. Om ons kinders te leer om vreugde in Jesus te vind verg ernstige gebed en inspanning. As ouers kan ons die Here vra vir volharding in die grootmaak van ons kinders en ons kan pleit vir die hulp en leiding van die Heilige Gees.
Soos wat ons met huisgodsdiens deur die Skrif gaan, bid ons dat die Here dit in ons harte sal toepas en geloof in ons sal laat groei. Dit is juis deur die HOOR van die evangelie dat geloof in ons harte opgewek word deur die Heilige Gees (Romeine 10:14-17).
Mag die Here ons so lei om ’n generasie van gelowiges groot te maak wat in Hom vreugde vind (Psalm 34:9; Psalm 37:4).

