Wat doen ek ná my kind se doop?
Daar is groot opwinding met jou kind se doop, maar wat moet jy daarna doen? Lees hier hoe om jou kinders reg te leer.
deur ds Werner Brotherton
Die afwagting op die nuwe baba in ’n mens se lewe is groot. Die doop self is van groot belang vir baie mense, met baie opgewondenheid. En dan breek die dag van die doop aan, ons kom by die huis na die doop, die nuwe week begin. Wat nou?! Ons het gedoen wat Matteus 28:19 van ons vra, ons het ons kind gedoop.
Maar, dis nie waar Matteus 28:19 eindig nie. Die volgende vers verduidelik dit verder:
en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Ons moet ons kinders alles leer wat Christus ons geleer het. Alles wat Christus ons geleer het word vir ons mooi saamgevat in die Bybel. Dit is wat ons, ons kinders moet leer! Hoe moet ons dit doen? Hiervoor kan ons na Deuteronomium 6:4-9 gaan kyk. Dit staan bekend as die Shema. Die Jode sê dit vandag nog elke dag ten minste een keer op.
Leer jou kinders deur God se Woord
Hier word spesifiek in vers 7 gewys hoe en wanneer ons ons kinders moet opvoed. Ons moet hulle die Woord van die Here inskerp. Die woord vir inskerp beteken letterlik om iets wat stomp is skerp te maak soos ’n mes. Die woord dra ook die gedagte om iets herhaaldelik te doen. Wat moet ons kinders ingeskerp word? Vers 4 leer dit vir ons: Die Here onse God is ’n enige Here.
Daar is geen ander buiten God nie. Hy is alleen God, Hy is die Enigste HERE! Ons moet ons kinders dit inskerp wanneer ons opstaan, wanneer ons gaan slaap en wanneer ons oppad is en wanneer ons by die huis sit. Met ander woorde, wanneer ons enige iets doen moet ons, ons kinders onderrig in God se Woord en wie Hy is.
Doen alles vanuit ’n Bybelse perspektief
Die gedagte is dat ons dinge wat in die lewe gebeur bespreek met ons kinders vanuit ’n Bybelse perspektief. Ons praat met hulle oor dit wat hulle in die lewe beleef en gaan beleef. As daar by die skool gevloek of vuil grappies vertel word, vertel ons hulle waarom dit verkeerd is.
Wanneer iemand doodgaan verduidelik ons aan hulle dat die dood nie mag oor ons as gelowiges het nie. Ons leer hulle van verlossing in Christus en dat ons geliefdes dadelik by die Here is.
Dit vra ook dat ons huisgodsdiens met ons kinders moet doen. Lees hier meer oor hoe jy dit kan doen.
Die belangrikste is om ons kinders te leer hoe ons as Christene in hierdie wêreld moet optree.


