Die engele bring goeie nuus oor Jesus
In Lukas 2 lees ons van die goeie nuus wat die engele aan die skaapwagters bring – Jesus die Verlosser is gebore!
Laai die twee bladsye hier af. Op die eerste bladsy is ’n verduideliking van wat ons in die gedeelte leer. Daarna, op die tweede bladsy, is ’n aktiwiteit waar jy moet dink oor wat die goeie nuus vir jou beteken. Jy kan dit ook hier onder lees.
Die goeie nuus
Op ’n stil nag buite Betlehem het skaapwagters in die veld gesit toe ’n engel skielik verskyn. Die engel het vir hulle gesê dat die Verlosser gekom het: Jesus is gebore!
Dit was nie sommer enige aankondiging nie. Dit was die beste nuus wat die wêreld nog ooit gehoor het! Die Verlosser, waarna mense so lank gewag het, het uiteindelik gekom.
Die engel se woorde herinner ons dat Kersfees oor baie meer as mooi liggies en geskenke gaan. Kersfees gaan oor die groot blydskap wat Jesus bring. Blydskap wat in elke hart kan leef wat vir Hom plek maak.
Moenie bang wees nie. Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir al die mense sal beteken.”
Lukas 2:10
God is by ons
Die engel se boodskap was nie net vir die skaapwagters nie, maar ook vir ons vandag. Wanneer ons bang, alleen of hartseer voel, herinner Kersfees ons dat God by ons is. Jesus, ons Verlosser, bring goeie nuus van redding, vrede in moeilike tye, en blydskap vir elkeen wat Hom aanneem. Hierdie Kersfees kan ons met dankbaarheid vier dat God self by ons kom woon het.
Vrae om oor te dink
- Hoekom sê die engel vir die skaapwagters dat hulle nie bang moet wees nie?
- Wat beteken dit vir jou dat Jesus “goeie nuus” bring?
- Hoe wys Kersfees vir jou dat God by ons is?
- Hoe kan jy hierdie Kersfees Jesus se vrede en blydskap met ander deel?
Aktiwiteit: Maak ’n kaartjie
Maak ’n “goeie nuus”-kaartjie. Skryf of teken wat vir jou die beste nuus van Kersfees is (soos “Jesus is gebore!” of “God is by my”).
Jy kan gerus een van die blokke hier onder uitknip en versier. Plak dit teen jou muur op, of gee dit vir iemand wat dalk bietjie moedeloos voel hierdie Kersfees.

