Ouers

Wat doen ek as my kind lieg?

Weet jy nie wat om te doen as jou kind jok nie? Hier is ses beginsels wat jy kan gebruik om jou kinders te help om die waarheid te praat.

deur ds Werner Brotherton


Ons almal kan onthou van ’n geleentheid toe ons self klein was. Ons is besig om iets te doen wat ons weet ons nie eintlik mag doen nie. Skielik loop jou ouers in die omtrek in met die vraag wat jy so vrees: Wat maak jy? En ons eerste reaksie is natuurlik: Niks nie…

Ons sê dit terwyl ons weet ons is nie besig met niks nie en baie keer weet ons ouers dit ook! Dit is een van die seerste dinge wanneer jou kind vir jou jok. Dit wys iets van wat in hulle hart aangaan.

Ons wil graag hê dat ons kinders die waarheid met ons moet praat, veral om hulle sondes te bely. Maar hoe leer ons ons kinders om die waarheid te praat, selfs al kan die gevolge nadelig wees?

Die eerste punt wat ons moet besef en van bewys wees, is dat enige sonde ’n hartprobleem is. Om te jok is nie die oorsaak nie, maar ʼn gevolg van iets groter. Ons moet tot die harte van ons kinders deurdring.

Hieronder is ses beginsels wat ons kan toepas:

1. Bid

Die eerste wat ons as ouers doen is om te bid. Ons bid dat die Here sal werk in die harte van ons kinders, want net Hy kan dit deur Sy Heilige Gees doen. Ons bid ook vir onsself, dat die Here ons kalmte en wysheid sal gee om ons kinders te lei en leer om die waarheid te praat, selfs al is die gevolge nadelig.


2. Leer jou kind dat God getrou en eerlik is

Omarm God met vreugde as eerlik en getrou. Voordat jy met die hart van jou kind begin werk, fokus eers weer jou eie hart en gedagtes op God se getrouheid. Hieruit kan jy jou kinders onderrig in God se getrouheid en waarheid.

In Johannes 14:6 leer Jesus Self dat Hy die Weg en die Waarheid is. Ons moet hierdie punt duidelik aan ons kinders oordra. God kan nie lieg nie (Hebreërs 6:18). Ons moet ons kinders leer dat Christus, en daarom moet ons ook, dit haat om te lieg (Spreuke 13:5).


3. Leer jou kinders uit jou eie voorbeeld

Dit is belangrik dat ons ons kinders uit ons voorbeeld leer om altyd die waarheid te praat. Dit beteken dat ons nooit vir hulle jok, voor hulle jok of hulle vra om namens ons te jok nie. As ons wil hê dat ons kinders hulle verkeerdhede moet bely, kan ons nie versuim om self ons sondes te bely en daarvan te bekeer nie. Daarom begin dit by ons as ouers om onsself te dwing om nooit te jok nie.

Hiermee saam moet ons kinders leer dat ons bedoel wat ons sê. Kinders moet leer dat jou woord iets beteken. As jy sê: “Skakel af die televisie”, bedoel jy dit! As hulle dit nie doen nie, en jy los dit net, leer hulle dat jou woord nie iets beteken nie.


4. Praat met jou kinders oor waarheid praat

Praat met jou kinders oor die voordele daarvan om die waarheid te praat. Verduidelik aan hulle hoe dit help dat ander mense jou kan vertrou en dat leuens vertroue breek. Wys jou kinders met opwinding op ander plekke waar die waarheid gepraat word soos in die prediking, nuusberigte, gesprekke, ens.

Die belangrikste is natuurlik om jou kinders uit die Woord hieroor te onderrig. Hulle moet hoor wat die Here se Woord sê oor jok. Hier is ’n paar tekste wat jy kan gebruik:

  • Kolossense 3:9
  • Efesiërs 4:25
  • Lukas 6:31
  • Spreuke 11:3

Laat jou kinders verstaan dat ons die Bybel ernstig opneem. Wys hulle hoe Christus baie keer sê “waarlik, waarlik”. Vertel vir hulle stories oor jok en wys die gevare van jok soos die seuntjie wat wolf geskree het, Ananias en Saffira in die Bybel.

Wanneer jy met jou kinders hieroor praat moet hulle ook verstaan dat liefde en waarheid praat bymekaar hoort (Efesiërs 4:15). Wat doen liefde? Dit vertel die waarheid.

Doen hierdie Gesinsbybelstudie saam:


5. Beloon jou kinders wanneer hulle die waarheid praat

Kinders hou in die reël daarvan om ons gelukkig te maak. Daarom is dit baie belangrik om hulle dadelik te prys wanneer hulle die waarheid praat. Prys jou kind eers wanneer hy die waarheid gepraat het oor die ruit wat hy gebreek het, voordat jy ’n straf oor die ruit gee.


6. Leer jou kinders onderskeidingsvermoë

Alle waarhede hoef nie altyd gesê te word nie. Kinders is soms baie vinnig om die waarheid te praat. Soms is dit egter beter as sekere waarhede nie genoem word nie, soos wanneer iemand oorgewig is.


Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel” (3 Johannes 4).

3 Johannes 4

Mag ons as ouers, deur die genade van die Here ons kinders leer om in die waarheid te wandel.


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui